Argaïese Griekeland
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Argaïese tydperk van Griekeland (800 tot 480 v.C.) is ’n tyd in Griekeland se geskiedenis wat gevolg het op die Griekse Donker Eeue. Dié tyd word gekenmerk deur die opkoms van die polis (stadstate), die stigting van kolonies en die anneksasie van die Persiese Ryk – asook die eerste tekens van klassieke filosofie, teater in die vorm van tragedies en geskrewe digkuns. Dié het ontstaan ná die herinstelling van die geskrewe taal, wat in die Donker Eeue verlore gegaan het. Die term "argaïes" dek ook hierdie kulturele aspekte.
Die Argaïese tydperk het geduur van die "strukturele rewolusie" (’n skielike toename in die bevolking en materiële goedere omstreeks 750 v.C.) tot met die "intellektuele rewolusie" van Klassieke Griekeland.[1] Die einde van die tydperk word gewoonlik beskou as Xerxes se inval in Griekeland in 480 v.C.
Die skerp styging in die bevolking aan die begin van die Argaïese tydperk het die stigting van nuwe dorpe en die uitbreiding van ou sentrums tot gevolg gehad. Die Grieke het ook vanaf omstreeks 800 v.C. gebiede al met die Middellandse en Swartsee langs gekoloniseer. Die rede vir dié verskynsel word deur Griekse skrywers beskryf as stenochoria, of "die gebrek aan land", maar in die praktyk is dit deur ’n verskeidenheid faktore veroorsaak, soos mededinging tussen politieke groepe, ’n lus na avontuur, uitbreiding van grondgebied en die soeke na handelsgeleenthede.[2]