Aansteeklike siektes
From Wikipedia, the free encyclopedia
Van die grootste rampe wat die wêreld nog getref het, was epidemies van aansteeklike siektes en infeksiesiektes. Die Swart Dood, 'n pesepidemie van 1347-1351, het altesame 75 miljoen lewens geëis en tydens die Spaanse Griep van 1918 is 21,5 miljoen mense dood. Die opknapping van higiëniese toestande, die ontwikkeling van antibiotika en inenting teen siektes, het daartoe gelei dat die meeste aansteeklike siektes nou behandel of voorkom kan word.
Infeksies ontstaan wanneer siektedraende mikro-organismes die liggaam binnedring. Dit geskied gewoonlik deur die slymvlies in die lugweë en minder dikwels deur die vel.
Wanneer 'n mens met hierdie siektekieme in aanraking kom, sal die weerstandsvermoë van die liggaam bepaal of dit besmet sal word of nie. Die weerstandsvermoë is afhanklik van faktore soos ouderdom, die voedingstoestand, ander siektes (suikersiekte maak o.m. die liggaam baie ontvanklik vir infeksies), die gebruik van medisyne soos bynierkorshormone (wat die liggaam se weerstand teen siektes verlaag), en ten slotte of die persoon dié spesifieke siekte al voorheen onderlede gehad het of nie. As 'n mens voorheen die siekte opgedoen het, bou die liggaam 'n weerstand daarteen op (immuniteit) wat die liggaam tydelik of permanent daarteen kan beskerm.